Suid-Afrika se voorste reistydskrif is enige buitelewemens se paspoort tot bekostigbare bestemmings en blyplek in Suidelike-Afrika. Elke uitgawe is volgepak met puik foto’s en gesaghebbende stories oor interessante mense en plekke (en wat om daar te doen). Kamp, voetslaan, fotografie, toerusting, kos, die langpad, en avontuur is ook deel van Weg se DNS. En omdat ons nie freebies aanvaar nie en self vir alles betaal, weet lesers hulle kan ons inligting vertrou. Of jy wil wegbreek vir die naweek of ’n lang vakansie, jou reis begin hier...
TOAST AAN DIE WOORD
Weg!
KYK HIER!
Alanis van die Karoo • Om ’n jakkalsjagter in die Hardemanskaroo te wees is ’n eensame werk. Maar as daar ’n jongmensliefde oor jou pad kom, skyn die sterre skielik ékstra-helder.
DIE KAROO
’n Sak vol genade • Die Sakrivier kronkel vir meer as 500 km deur die Karoo voordat sy waters wegsypel in die Grootvloer tussen Brandvlei en Kenhardt. Maar Karoo-riviere is nie bekend vir hulle waters nie – eerder vir die stories wat padlangs oopspoel die dag wanneer hulle wél in vloed afkom.
Het jy dalk fossiel-oë? • Die uitgelese professor Bruce Rubidge het sy lewe daaraan gewy om die paleontologiese geheime van die Karoo te ontsluit. Die nuwe Karoo Origins Fossil Centre op Graaff-Reinet huisves ’n verstommende verskeidenheid van fossiele van die Rubidges se eie familieversameling.
Sonder sein, sonder pyn • Is die Karoo- nasionale park net buite Beaufort-Wes dalk ons land se mees onderskatte reservaat? Dis ’n gerieflike oorstaanplek wanneer ’n mens N1 langs ry, maar hier’s ook heelwat te sien en te doen. Voeg ’n paar dae by jou reisplan en verken elke paadjie... Wanneer jou sein eers verdwyn, dán begin jou vakansie!
Van blokhuis tot Hagenhuis • Burgersdorp, geleë in ’n prentjiemooi deel van die Noordoos-Kaap, het ’n ryk kultuurgeskiedenis – of jy nou hou van ’n Anglo-Boereoorlog-blokhuis of ’n opgestopte bergleeu...
Kamera, lig… mense! • Weg en Heuningland het die eerste Karoo-fotografietoer in die laatsomer van 2025 aangebied. Op dié toer kuier gaste meestal in en om Nieu-Bethesda, maar draai ook in die distrikte van Nelspoort, Murraysburg en Graaff-Reinet.
Om Nelspoort weer op die map te kry • Wie weet waar is Nelspoort? Dié klein Karoo-dorpie lê vergete net ’n paar kilometer van die N1 waar duisende karre elke dag verbysnel. Maar Laurence Rathenam is nie iemand vir vergeet en miskyk nie – hy is iemand vir onthou, en vir sién.
Torings vol bekoring • Op enige Karoo-dorp oorheers die NG Kerk gewoonlik die landskap. Hier is van die mooistes...
Te voet deur Gamkaskloof • Die Gamkaskloof Trail is ’n drie dae lange slenterstaproete waartydens ’n mens die voetspore van die pakdonkies van ouds volg. Padlangs ontdek jy die bekoring van dié weggesteekte kloof se mense en hulle unieke geskiedenis.
Raak stil op Merweville • In die hartjie van die Koup is ’n Karoo-dorpie met ’n groot hart. Maak ’n draai op Merweville en ontmoet van die mense wat dit maak wérk!
Bly hier • SPESIALE AKKOMMODASIE-AFDELING
’n Plekkie vir elke mens • Beplan jou volgende toer deur die Klein-Karoo met dié lys van agt blyplekke, van Montagu in die weste tot De Rust in die ooste. Hier is iets vir almal!
’n Bietjie bossies is genoeg bossies • Die Suid-Vrystaat word ook soms die Skynkaroo genoem omdat hier stukke Karoo-veld rondlê. Tussen die klipperige rante steek die Karoo en sy plante (én sy maniere) plek-plek kop uit. In hierdie storie deel ons ses blyplekke waar jy die rustigheid behoorlik aan jou bas kan voel.
Maak vriende met die N1 • Dis steeds goedkoper om met die N1 van Johannesburg af Kaapstad toe te ry as om te vlieg – veral as jy boonop ’n branderplank, ’n bergfiets of ’n paar kinders moet karwei. Onderbreek dié eentonige rit met ’n oorstaan by een van dié...